Wednesday, May 21, 2008

Harry Potter
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Spring na: navigasie, soek
Harry Potter is die titel van 'n reeks van sewe fantasieromans geskryf deur die Britse skryfster J. K. Rowling, asook die naam van die hoofkarakter in die romans. Die boeke handel oor die avonture van 'n jong towenaar en sy vriende Ron Weasly en Hermione (Hermien) Granger. Gebeure in die verhaal speel meestal af by Hogwarts Skool, 'n akademie vir jong towenaars en hekse. Die sentrale konflik waarin Harry gewikkel is, is teen 'n bose towenaar, die Heer Voldemort, wat Harry se ouers vermoor het as deel van sy planne om die towerwêreld oor te neem.
Vandat die eerste roman Harry Potter and the Philosopher's Stone (in Afrikaans Harry Potter en die Towenaar se Steen) in 1997 verskyn het, wat in die VSA hernoem is as Harry Potter and the Sorcerer's Stone, het die boeke ontsettend populêr geword onder lesers van alle ouderdomme, en het die reeks positiewe kommentaar van kritici uitgelok. Uit die romanreeks het films, videospeletjies en ander produkte verskyn. Die sewende en laaste boek in die reeks, Harry Potter and the Deathly Hallows, Afrikaans Harry Potter en die Skatte van die Dood), is onderskeidelik uitgegee op 21 Julie en 15 November 2008, aangesien die boek, soos die voriges in die reeks, in Afrikaans vertaal moes word.

Vertaling [wysig]
Die reeks is al in 65 verskillende tale vertaal vandat die eerste boek in 1997 verskyn het. Hierdie tale sluit Frans, Nederlands, Duits, Afrikaans en Italiaans in. Die boeke is ook soos ander klassieke kinderverhale (byvoorbeeld Winnie The Pooh en Peter Rabbit) in Antieke Grieks en Latyn beskibaar. Harry Potter and the Philosopher's Stone en Harry Potter and the Chamber of Secrets is die enigste twee in die reeks wat in Latyn beskikbaar is. Die rede hiervoor is waarskynlik die tydsame proses van vertaling vanaf Engels na Latyn. Die vertalings is deur Peter Needham behartig, wat meer as 30 jaar by Eton Kollege gedoseer het in die Klassieke. Sy vertalings, onder die titels Harrius Potter et Philosophi Lapis en Harrius Potter et Camera Secretorum, het 'n positiewe respons van kritici ontvang.
Aangesien die inhoud van die boeke streng geheim gehou is tot dit amptelik regoor die wêreld vrygestel is, moes lesers van ander tale buiten Engels maande wag vir vertalings in die taal van hulle voorkeur. Dié was ook die geval met die Afrikaanse uitgawes, waar lesers gewoonlik tussen vyf en agt maande moes wag. Die Harry Potter-reeks word in Afrikaans uitgegee deur Human & Rousseau. Die eerste vyf boeke, Harry Potter and the Philosopher's Stone, Harry Potter and the Chamber of Secrets, Harry Potter and the Prisoner of Azkaban, Harry Potter and the Goblet of Fire en Harry Potter and the Order of the Phoenix, in Afrikaans bekend as Harry Potter en die Towenaar se Steen, Harry Potter en die Kamer van Geheimenisse, Harry Potter en die Gevangene van Azkaban, Harry Potter en die Beker Vol Vuur en Harry Potter en die Orde van die Feniks, is in Afrikaans vertaal deur Janie Oosthuysen. Die sesde boek, Harry Potter and the Half-Blood Prince en die sewende boek, Harry Potter and the Deathly Hallows, in Afrikaans Harry Potter en die Halfbloed Prins en Harry Potter en die Skatte van die Dood, is deur Kobus Geldenhuys vertaal.

Films [wysig]
Die produksiehuis Warner Bros. het die bal in 2000 aan die rol gesit vir 'n reeks rolprente, waarvan die tweede laaste een, Harry Potter and the Half-Blood Prince tans in produksie is. Die vyfde rolprent, Harry Potter and the Order of the Phoenix, het mees onlangs verskyn op 11 Julie 2007. Die rol van Harry is tot dusver in al die films vertolk deur die jong akteur Daniel Radcliffe. Die rolle van Hermione (Hermien) en Ron is deur Emma Watson en Rupert Grint onderskeidelik vertolk. Aangesien Rowling aangedring het daarop dat alle rolle deur eksklusief Britse toneelspelers vertolk word, is baie legendes uit die Britse rolprentwêreld ook daarin te sien, onder andere Michael Gambon (as Albus Dumbledore in die derde, vierde en vyfde films), Maggie Smith (as Minerva McGonagall, in al vyf rolprente), Alan Rickman (as Severus Snape, in al vyf rolprente) en ook Gary Oldman (as Sirius Black, in films drie, vier en vyf). Vir die eerste twee rolprente, Harry Potter and the Philosopher's Stone en Harry Potter and the Chamber of Secrets, wat onderskeidelik in 2001 en 2002 uitgereik is, het Chris Columbus as regisseur opgetree. Harry Potter and the Prisoner of Azkaban is onder die regie van Alfonso Cuarón verfilm en is in 2004 uitgereik. Vir Harry Potter and the Goblet of Fire, wat in 2005 uitgereik is, het Mike Newell die leisels oorgeneem. Die onlangste rolprent, Harry Potter and the Order of the Phoenix het David Yates as regisseur gehad. Yates sal ook die regiewerk vir die sesde film, Harry Potter and the Half-Blood Prince doen. Dié rolprent se uitreiking vind in November 2008 plaas. Die uitreiking van die sewende rolprent, Harry Potter and the Deathly Hallows, is voorlopig vir 2010 geskeduleer.
Die musiekklankbane vir die eerste drie rolprente is deur veteraan filmkomponis John Williams geskep. Williams is veral bekend vir sy kragtige filmmusiek uit bekende reekse soos Star Wars en Indiana Jones, met 'n styl wat sterk ooreenkom met dié van die bekende komponis Richard Wagner. Williams maak ook graag gebruik van die leitmotif-tegniek, waar sekere musikale temas voortgesit word deur die hele klankbaan. Hierdie temas verskyn ook meestal in die opvolgrolprente. As gevolg van 'n besige jaar in 2004, waar Williams klankbane vir vier ander rolprente geskep het, moes hy die aanbod om weer die musiek vir die volgende Potter-film te doen van die hand wys. Komponis Patrick Doyle het die klankbaan vir Harry Potter and the Goblet of Fire geskryf, maar het Williams se oorspronklike temas gehou, onder andere Hedwig's Theme, wat by aanhangers die tema vir die rolprente geword het. Die klankbaan van Harry Potter and the Order of the Phoenix is deur Britse komponis Nicholas Hooper geskryf en soos Doyle het Hooper ook weer gebruik gemaak van Hedwig's Theme. Anders as Williams en Doyle het Hooper nie 'n tematiese benadering gevolg toe hy die musiek vir die rolprent geskryf het nie, maar eerder gefokus daarop om gevoelswaarde uit tonele te neem en die musiek daarvolgens te komponeer. Hooper gaan ook die klankbaan vir Harry Potter and the Half-Blood Prince komponeer, maar Williams het onlangs sy belangstelling uitgespreek om terug te keer vir die sewende en laaste rolprent, Harry Potter and the Deathly Hallows.

Eksterne skakels [wysig]
J.K. Rowling - amptelike webwerf
Amptelike rolprentwebwerf
Ontsluit van "http://af.wikipedia.org/wiki/Harry_Potter"